Brugbediening is noodsaaklik! Ek beleef dit tans vir n tweede maal, nou in Alberton-Oos en voorheen in Drie Riviere.
![](https://static.wixstatic.com/media/cb7c99_58a0e01ad03e463bb9e0b68cc622a70f~mv2.jpg/v1/fill/w_980,h_435,al_c,q_85,usm_0.66_1.00_0.01,enc_auto/cb7c99_58a0e01ad03e463bb9e0b68cc622a70f~mv2.jpg)
Wanneer ‘n leraar vertrek, is 'n Gemeente in 'n onbekende wêreld. Hul wil dadelik die bekende metode volg, nl. beroep so gou moontlik ‘n leraar om aan te gaan presies soos voorheen. Maar doen-dieselfde in ons huidige drasties anderse situasie, gaan nie werk nie. Dis onontbeerlik dat hul eers moet gehelp word om nuut te dink.
Dis hoekom brugbediening noodsaaklik is om die gemeente en veral kerkraad te help om nuut te kyk:
Hulle moet nuut kyk na Jesus wat in verlede en ook nou deur krisisse kan en sal lei.
Hulle moet nuut kyk na hulself veral omdat hul selfbeeld soms klein of skeef is, bv 'Ons is oud en kan nie jongeres trek nie'
Hulle moet nuut kyk na hul omgewing. In albei gemeentes het lidmate gedink daar woon niks jongmense in hul omgewing nie, terwyl demografiese feite gewys het daar is baie jongmense. Ook verrassend én ontstellend in albei gevalle was dat 'n baie groot persentasie van jong gesinne na géén kerk toe gaan nie en nie noodwendig na ander kerke toe weggetrek is nie.
Hulle moet nuut kyk na hul roeping en veral wyer kyk. Telkens is die droom bloot om die kerk weer vol te kry en die verlede te herstel. Nuwe moontlikhede veral missionaal is soms amper ondenkbaar.
Werk brugbediening goed? Ja en Nee. Dit help beslis met eerste treë maar dis ‘n lang pad. Tans is selfs kerke met ‘n helder Bybelse roeping besig met ‘n moeilike reis. Die saad val dikwels op harde grond.
Wat is ons blokkasies? Dit lyk soms asof kerke wat nuut gestig word makliker groot groei. As ons roeping slegs maar is om kerke groot te kry, misluk die NGKerk en brugbediening. Maar dis waarom die diep denkproses met helder teologie tydens 'n brugfase so nodig is. Die teologie en metodes van sommige nuwe groot kerke is nie Bybels gewens nie al lyk dit suksesvol. Maar ewe-eens: soms moet brugbediening ook 'n NG gemeente se teologie en metodes diepgaande verander sodat daar nuwe groei kan plaasvind.
'n Kernfaktor is om ‘n gemeente te help om ‘n leraar te vind wat kan saamwerk na ‘n nuwe roeping. Ook dit is moeilik want ons as leraarskorps dink ook eng en oud. Ek as brugleraar moet beslis krities na myself kyk en wyer dink as selfs my eie ervaring: dalk moet ek ook tydens hierdie brugfase nuut oor roeping begin dink. Moeilik?
Nog twee uitdagings is om gelyktydig tog ook ‘n gemeente te help met gewone liefdevolle bediening, en om klein suksesse te laat gebeur. Dis noodsaaklik om klein nuwe moontlikhede te implementeer of met sulke pogings te eksperimenteer. Sodoende kan ‘n gemeente se selfbeeld verander word. Eers dan kan hul glo dat ‘n groter nuwe roeping regtig haalbaar is.
Brugbedienig is nodig, moeilik én baie stimulerend. Dis dalk juis jóú roeping nou!
Henk Gous
Dr Henk Gous was brugleraar by Drie Rivier gemeente en is tans by Alberton-Oos. Hy het enkele sake onderstreep om juis die noodsaaklikheid van brugbediening te belig. Hy beklemtoon die noodsaaklikheid vir gemeentes om ‘n kwesbare tyd te benut om nuwe grond te ontgin en dalk ‘n paar lewensbelangrike skuiwe te maak.
Comentários