Baie van ons gemeentes mag hulle in hierdie tyd vasgeloop voel, omdat ons, soos Johan Rupert tereg opmerk nie “pause” nie maar “reset”. Die meeste van ons het ‘n natuurlike weerstand teen verandering, al weet ons dat dit elke dag deel van ons lewe is.
Die verandering nou ter sprake, is egter onverwags, ongekend en bring geweldige onsekerheid. Dit raak elke lidmaat tot by ons gemeentes kollektief. Ons gaan daarom nie kan terugkeer na dinge “ soos dit was nie”, want in Rupert se woorde alles is “gereset.”
Brugbediening kan ‘n instrument wees wat gemeentes in hierdie tyd kan help om te beweeg van waar ons, ons tans bevind, na ‘n omgewing waar ons ingeligte besluite kan neem rakende ons gemeentes se toekoms.
Die kerk bly geroepe, ongeag die konteks. Ons wil nie net oorleef nie, maar werklik voluit lewe. Daarom is gemeentes as draers van hoop ononbeerlik vir ons land in hierdie tyd.
Brugbediening kan gemeentes baie behulpsaam wees in die herontdekking van ons roeping, waar ons, ons ookal mag bevind.
Die benadering is baie praktyk gerig. Brugbediening bied aan gemeentes gereedskap om mee te werk. Daar word veral gefokus op vyf belangrike momente in die proses. Onder andere; die gemeente se Geskiedenis, hul Identiteit, gemeentelike Leierskap, verhouding met die Breëre Kerkverband en hul verbintenis tot ‘n Ingeligte Besluite rakende hul toekoms.
Die proses word deur ‘n brugleraar (wat doelbewus hiervoor opgelei is) begelei vir 6-9 maande (wat verleng kan word indien die situasie dit sou verlang). In die proses word ook gekyk na trauma, konflik, verwagtinge, roeping en gemeentelike konteks.
Ons glo dat die Here wat ons as kerk geroep het getrou is en dat Hy ons deur hierdie tyd begelei. Hy werk in en deur sy gemeente en daarom is lidmate wesenlik deel van die brugproses. Brugbediening is in hierdie onseker tyd, ‘n waardevolle stuk toerusting, waaroor die kerk tans beskik. Gemeentes hoef dus nie nie wag en kyk hoe die situasie hom uitspeel nie, maar kan daadwerklik toe te tree tot die situasie.
Ds Christoph Müller Leraar NG Kerk Groenkloof
Comentarios