Uit Stutterheim kom ‘n heerlike verhaal van samewerking tussen gemeentes van verskillende denominasies. Die plaaslike NG Kerk en die Presbiteriaanse Kerk werk saam aan ‘n proses van formele samewerking in die nabye toekoms.
Inleiding
Ons bly in 'n klein dorpie en doen baie goed saam, maar Sondae is ons as gemeenskap verdeeld. Gedurende die laaste tien jaar was daar van tyd tot tyd gesprekke oor en drome vir 'n groter samewerking tussen die verskillende gemeentes van die dorp om sodoende getuienis te lewer van die realiteit van God se Koninkryk.
In 2019 het hierdie droom begin vorm aanneem toe leiers van die NGK en Presbiteriaanse Kerk saamgekom het om te besin oor hoe om saam te werk en hoe om hulpbronne te deel. By daardie vergadering is besluit dat 'n groep Bedford sal besoek waar sodanige samewerking al 22 jaar aan die gang is.
Vir 2020 is verdere vergaderings en byeenkomste van die twee gemeentes beplan, maar ons is “ge-Covid”! Hierdie vergaderings en byeenkomste het nie gebeur nie, maar die twee gemeentes se droom het nie gaan lê nie. Op 27 Julie 2021 is daar weer 'n gesamentlike vergadering van die leierskappe van die NGK en Presby kerke gehou.
Bydraende faktore
Daar is verskeie redes hoekom hierdie gesprekke en samewerking belangrik is. Van die redes is as volg:
Ian Hawkridge van die Presbiteriaanse Kerk tree op 28 Februarie 2022 af. Hierdie gemeente het geld verskuldig aan die Presbiteriaanse Sinode, en kan daarom nie op hierdie stadium 'n leraar beroep nie.
Nie een van die plaaslike gemeentes is in staat om 'n leraar op volle traktement te onderhou nie. Tog het hierdie twee gemeentes hulpbronne wat hulle kan deel, insluitende 'n voltydse leraar.
Beide die NGK en die Presbiteriane deel 'n soortgelyke oorsprong, teologie en belydenis, daarom maak dit sin vir hierdie twee gemeentes om saam te werk.
Die moontlikheid word oopgehou dat hierdie samewerking in die toekoms ander gemeentes in Stutterheim kan betrek.
Besluite van die vergadering
Dit is nie moontlik om op hierdie stadium al die praktiese reëlings vas te maak nie. Tog wil die vergadering die volgende riglyne aan die twee gemeentes deurgee:
Praktiese sake:
Nadat Ian afgetree het met pensioen, sal Deon hier wees tot en met sy aftrede einde Januarie 2024. Gedurende hierdie periode voorsien die vergade-ring dat sy taak sal wees om die twee gemeentes te lei deur 'n proses van die verlies van 'n langtermyn bediening en om hulle voor te berei om gesamentlik 'een leraar vir albei gemeentes te beroep.
Elke gemeente sal voortgaan om hulle eie sake te reël, maar daar sal gesamentlike vergaderings van die twee leierskap groepe ook wees.
Na Ian se aftrede sal die twee gemeentes op 'n gelyke basis bydra tot Deon se traktement en pakket. Die twee gemeentes sal egter ook hulle eie geboue, bedieninge, finansies en ander sake hanteer. Met die oog hierop versoek die vergadering die NGK om gesamentlik met die Presbiteriaanse leierskap te begroot vir Deon se traktement vir 2022/23.
Wat tegniese sake betref sal die Presbiteriaanse gemeente by die Amathole Ring moet aansoek doen om Deon aan te stel as “stated supply” vir die gemeente. Die Ring sal ook 'n konsulent van hulle keuse aanstel.
Aan die NGK se kant sal die Ring van Oos-Londen die kontrak tussen die twee gemeentes moet goedkeur. Die Kerkorde van die NGK bevat alreeds 'n voorbeeld van so 'n kontrak, so dit behoort nie 'n probleem te wees nie.
Die vergadering stel 'n komitee aan om die dag tot dag proses te help bestuur. Dit bestaan uit Ian Hawkridge, Deon Strydom, Lyndon Hall, Margie Kelly, Dawie Venter en Shanice Ihlenfeldt.
Korttermyn:
In die korttermyn wil ons voortgaan met kanselruilings en gesamentlike sosiale geleenthede. Met die oog hierop is daar 'n gesamentlike diens gevolg deur 'n Bybelse ete op 29 Augustus (Bybelsondag) om 10vm by die NGK. Kanselruilings word beplan vir 31 Oktober en 12 Desember.
Die twee leraars sal gemeentelede en die buite preekpunte gesamentlik besoek sodat mense mekaar en hulle kan leer ken.
Ds Danie Mouton van die NG Sinode van die Oos-Kaap het sy bereidwilligheid verklaar om te help om die proses te fasiliteer. Hy het baie ondervinding in sake soos hierdie. Die vergadering besluit om Danie te versoek om eers met die twee gemeentes afsonderlik te vergader, en daarna 'n gesamentlike vergadering te lei.
Langtermyn:
In die langtermyn word voorsien dat eredienste te Komga, Kei Weg en Bolo sal voortgaan. Dienste in Stutterheim sal moet aanpas nadat Ian weg is, maar dit is moontlik om dit byvoorbeeld op 'n rotasie basis van Engelse en Afrikaanse dienste onderskeidelik te hanteer.
Aan God al die eer!!
Comentários