Om onseker te wees oor enige iets is vir ons ongemaklik en iets wat ons nie sommer wil erken nie. Dit voel ‘n bietjie uit beheer uit en selfs ankerloos. Nog meer in die tyd waarin ons leef waar dit voel of alles agteruitgaan en die toekoms maklik donker lyk. Verandering lyk ook nie altyd vir ons na verbetering nie en moeilik om te erken dat ons dit nie kan keer nie maar eerder moet bestuur. Juis dit is die uitdaging: wat maak ons met verandering? As ons sê ons moet verandering bestuur, wat beteken dit en hoe doen ons dit?
Onsekerheid is ‘n posisie waaruit ons so vinnig moontlik wil ontsnap. Die mees algemene posisie van onsekerheid vir ‘n gemeente is wanneer hulle leraar ‘n beroep aanvaar. Indien die gemeentefondse sterk is dink die gemeente dit is maklik, net ‘n kwessie van tyd, twee of drie maande, dan het ons ‘n nuwe dominee. Dit is ‘n basiese fout omdat finansies nie die enigste, en gladnie die belangrikste faktor in die proses is nie. Dit is soos ‘n span wat ál sy hoop op een goeie sleutelspeler plaas.
Indien die finansies nie so sterk is nie en lidmaattalle min, voel ons nie so seker nie en val terug op oplossings van kontrakposte, beperkte salarisskale, tentmakerposte of emeriti. Steeds draai al die planne om finansies wat maar dieselfde fout is as by gemeentes waar daar meer geld is. Daar is wel probleme en krisisse wat ons met geld kan regmaak maar hierdie is nie een van hulle nie. Dit is presies hoe veral klein gemeentes heel dikwels voel wanneer hulle leraar skielik geroep word om elders te gaan arbei. Of dit goed gegaan het en of dit sleg gegaan het daar kom ‘n leemte van onsekerheid wat enige mens wil vermy.
Dit is ‘n natuurlike keuse om so gou moontlik ‘n plaasvervanger te kry sodat ons uit hierdie ongemaklike posisie van onsekerheid kan glip. Die onus word vierkantig op die skouers geplaas van die persoon wat ons gaan aanstel. Die grootste en enigste verantwoordelikheid wat die leiers van die gemeente het is net om die regte persoon aan te stel. Met toegewyde gebed, uitgesoekte kundigheid en selfs professionele prosedure word onderhandel en seker gemaak wie is die regte een. ‘n Deeglike proses en tog onvolledig...
Die feit wat baie maklik en dikwels misgekyk word is dat gemeentewees ‘n spanpoging is, en die leraar is net ‘n spanlid met spesifieke opdrag. Indien die leraar al die verantwoordelikheid moet dra sal die gemeente moet soek na ‘n fiktiewe superheld. Ongelukkig is gemeenteopdrag nie ‘n fiktiewe saak nie en daarom moet daar liewer gefokus word op die werklikheid. Om dus die proses volledig te maak moet daar gekyk word wie is die gemeente, met huidige inligting, in huidige omstandighede, huidige behoeftes en huidige roeping.
Die ideaal vir die gemeente is om al hierdie ontdekkings te maak sonder ‘n leraar. Die probleem wanneer daar ‘n leraar is lê dit nie by die leraar nie maar by die verwagting. In ‘n maatskappy waar daar net een betaalde amptenaar is word die verwagting maklik geskep dat al die oplossing in die hande van hierdie amptenaar is. Die antwoord sou wees om ‘n tydelike persoon te kry wat die gemeente vir ‘n kort tydperk fasiliteer om hierdie ontdekkings te maak. Hierdie fasiliteerder is nie en word nie die gemeenteleraar nie, daarom kan die gemeente nie alle verwagtings op hom of haar plaas nie. Die oplossings lê in die gemeente en volhoubaarheid lê in deelname en selfontdekking.
Interim bediening wil juis gemeentes met hierdie proses help. Dit is baie moeilik om iemand anders te evalueer maar nog moeiliker om selfevaluasie te doen sonder hulp. Dit is waar die naam brugbediening vandaan kom – ‘n bediening wat as gereedskapstuk dien om die gemeente oor hierdie brug te help. Soos ‘n gids of ‘n konsultant kan die brugleraar die gemeente help om self in die kortste moontlike tyd die nodige ontdekkings te maak, behoeftes te bepaal en besluite te maak. Niemand weet vooraf wat aan die ander kant van die brug is, hoe lank dit is of hoe diep die kloof is nie. Niemand kan dit vooraf bepaal of sê nie, dit moet vars en uniek ontdek word. Daarom word die brugleraar ook nie die permanente nuwe leraar nie, anders word dit bloot hy of sy wat ge-evalueer word en die gemeente ontdekking gaan verlore.
Soos wat daar duisende ontwerpe vir brugbou bestaan, wil hierdie interim bediening uniek by elke gemeente toegepas word omdat elke gemeente uniek is. Daar kan ‘n formele beroep uitgebring word waar ‘n brugleraar in ‘n tydperk van ses tot agttien maande die gemeente help om te konsentreer op ‘n paar fokusarias. Die tyd is nie vasgestel nie omdat elke gemeente ‘n eiesoortige uitdaging het. In hierdie tyd word gefokus op die gemeenteverhaal van begin tot op hede. Daar word gekyk na die identiteit van die gemeente, geografies, demografies en wat spiritualiteit betref. Deurentyd is daar noue samewerking met die kerkverband. Leierskap en bedieningstrukture kry aandag en met ingeligte besluitnemeng word besin oor die gemeente se toekoms en roeping. Met al hierdie nuwe vars kennis kan ingeligte besluitneming gedoen word oor die toekoms soos die beroeping van permanente leraar. Wat oor die algemeen as ‘n kwesbare tyd in gemeentelewe beskou word kan deur brugbediening verander word in ‘n vrugbare en lewensvernuwende tyd.
‘n Ander moontlikheid na gelang van behoefte en omstandighede is dat ‘n gemeente ook kan kies vir interim fasilitering. Dit behels korter kontaktye waar ‘n geakkrediteerde leraar die gemeente in basies dieselfde fokusareas fasiliteer. In hierdie geval word die brugleraar nie beroep nie maar besoek die gemeente op gereelde basis na gelang van behoefte en fasiliteer die gemeente in genoemde prosesse.
Ons leef in onseker tye. Verandering wat nog altyd ‘n baie aktuele saak was, word nou meer as ooit uitgewys as onignoreerbaar. Ons het nie maar net oorbrugging nodig tussen die vorige en volgende dominee nie, ons het dalk ‘n brug nodig tussen vorige en nuwe bedieningsbenadering en aanslag. ‘n Nuwe tydvak het finaal met ‘n donderslag aangebreek waar dominee, sowel as gemeente nuut moet dink oor die rol wat elkeen moet speel as dissipels van ons Here in ‘n tyd soos hierdie waarin ons leef vandag.
Brugbediening wil nie net ‘n gaping vul nie, maar juis gemeentes help om ‘n kwesbare tyd betekenisvol te gebruik om te groei en sinvolle ontdekkings te maak. Dit gaan nie oor blote aflos tydens ‘n vakature nie maar juis om ‘n kwesbare tyd om te swaai in ‘n nuttige wegspringblok vir die toekoms. So word ‘n tyd van onsekerheid verander in ‘n tyd van opwindende ontdekking vir die toekoms.
Navrae kan gerig word aan:
Ds Bossie Müller 082 457 2348 whbmuller@mylan.co.za
Ds Christoph Müller 082 308 5795 cm1882@gmail.com
Ds Bennie Brink 082 337 5458 bennibrink@gmail.com
Comments